Padlangs Huistoe Oggend Boodskap ::
Een ding wat ek geleer het: As iets belangrik is, sal die Woord dit noem. Kom ons kyk na Lukas 1: 6. “En hulle (Sagaria en Elizabeth) was altwee regverdig voor God en het in al die gebooie en regte van die Here onberispelik gewandel.”
Sagaria en Elizabeth was reeds ver gevorderd in jare en Elizabeth was onvrugbaar. Ten spyte hiervan het die Here aan hul ‘n belofte gegee dat hulle ‘n seun sal hê en nie te lank daarna , het Elizabeth ‘n seun gebaar wat hulle Johannes genoem het.
Baie keer lees en maak ons God se beloftes ons eie. Ons staan op God se Woord en “eis” selfs al God se beloftes in Jesus se naam. Dan, wanneer ons nie ontvang waarop ons gehoop het nie, is ons gou om te besluit dat dit seker nie vir ons bedoel was of dat God ons nie lief het nie of dat God nie Sy beloftes gestand hou nie. Trouens, daar is ‘n neiging om God die “skuld” te gee wanneer ons nie ontvang nie of wanneer ons nie het wat ons glo die Here moet gee nie.
Ons moet egter let op Lukas 1: 6. Leef ons regverdig voor die Here? Wandel ons onberispelik in al die gebooie en regte (insettinge) van die Here?
Soms is ons soos stoute kinders wat vloermoere (tantrums) voor die troon van God gooi. Ons verontagsaam Sy Woord, verwerp Sy oproep om heilig te lewe en weier om die sonde te los. Dan, wanneer ons nie kry waarvoor ons gevra het nie, mor en kla en huil ons voor die Here.
Lukas 1: 37 vertel ons dat niks vir die Here onmoontlik is nie. Maar lank voor hierdie vers sien ons dat die Here nie net Sagaria en Elizabeth gegee het wat hulle wou hê nie, maar dat Hy hulle eerder “beloon” het omdat hulle regverdig en onberispelik voor Hom gewandel het.
Kan ons God se guns koop deur ons optrede of leefwyse? NEE, maar wanneer ons ten volle oorgegee is aan die Here en in nederige gehoorsaamheid leef, sal ons die absolute wil van God wat in ons lewens ervaar en en dit sal sigbaar openbaar word.