Padlangs Huistoe Naweek Boodskap

Matteus 4:18-19 En terwyl Jesus langs die see van Galiléa loop, sien Hy twee broers, Simon wat genoem word Petrus, en Andréas, sy broer, besig om ‘n net in die see uit te gooi; want hulle was vissers. En Hy sê vir hulle: Kom agter My aan, en Ek sal julle vissers van mense maak.

Terwyl ek Matteus 4:1-19 lees, word ek daaraan herinner dat Jesus Christus nie vir Petrus en Andreas gevra het om Hom te volg nie. In plaas daarvan het Jesus hulle beveel en in gehoorsaamheid het hulle die Here gevolg.

Ons is ook geroep om Jesus te volg, geroep om Hom te dien en geroep tot gehoorsaamheid. In die lig hiervan moet ons verstaan dat God se vereistes vir ‘n heilige lewe nie ‘n versoek is nie, maar ‘n opdrag.

God vra ook nie dat ons mekaar lief moet hê nie – Hy beveel ons dit te doen in Johannes 15:17 “Dit gebied Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê.”

God vra nie van ons om diegene wat teen ons gesondig het, te vergewe nie – Hy beveel ons om dit te doen. “Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.” (Kolossense 3:13 )

God vra nie van ons om die Evangelie te versprei nie – Hy beveel ons om dit te doen . “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.” ( Markus 16:15 )

God vra nie van ons om die armes, die weduwees en die weeskinders te versorg nie – Hy beveel ons om dit te doen . “Reine en onbesmette godsdiens voor God en die Vader is dít: om wese en weduwees in hulle verdrukking te besoek en jouself vlekkeloos te bewaar van die wêreld.” (Jakobus 1:27 )

God vra nie van ons om ‘n heilige en toegewyde lewe te lei nie – Hy beveel ons om dit te doen . “Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.” ( 1 Petrus 1 : 15-16 )

God vra nie van ons vir mekaar te bid nie – Hy beveel ons om dit te doen . “Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag.” (Jakobus 5:16 )

God vra nie van ons om aan Hom te gee nie – Hy beveel ons om dit te doen . “Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief.” ( 2 Korinthiërs 9:7 )

Ek kan voortgaan, maar ek dink ons kry die prentjie. Wanneer ons in Jesus Christus is, het ons geen ander keuse as om Hom te gehoorsaam nie, geen ander keuse as om daagliks Sy aangesig te soek nie, geen ander keuse as om te doen waarvoor die Vader ons geroep het nie.

As dit dan die geval is, moet ons die Woord aanhang en gehoorsaam wees. Ons moet doen wat God ons beveel het en ons moet in uiterste gehoorsaamheid wandel.

“As ons nie die goeie doen wat ons weet ons moet doen nie, is ons skuldig aan sonde.” (Jakobus 4:17)

Social Share Buttons
Previous post Vandag loof ek die Here wat was, wat is en wat sal wees.
Next post Saterdagaand Kampvuur 11 van 3 December 2022

Goto Top