Padlangs Huistoe Oggend Boodskap ::: Die Bybel is maar net ‘n boek!
Maar die Bybel is ‘n interessante boek!!
Die Bybel bestaan uit 66 boeke wat deur meer as 40 skrywers oor ‘n tydperk van ongeveer 2 000 jaar geskryf is. Tog pas die boeke perfek bymekaar asof dit deur een persoon geskryf is. Oor die jare is die Bybel ook as akuraat bewys in terme van profesie en geskiedenis. Daar word gesê dat die Bybel die siel van God bevat, die sondige staat van die mens openbaar en die weg na saligheid aandui. Dit wys ons ook dat sondaars God se oordeel sal beleef terwyl gereddes vrede en geluk sal vind. Bybelse leerstellings is heilig. Bybelse voorskrifte is bindend. Bybelse geskiedenis is waar en God se beloftes daarin is onveranderlik.
Oor windpompe. Ten einde water voort te bring moet die windpomp se blaaie deur die wind aangedryf word. En, soos menige boer kan bevestig, lewer ‘n aanhoudende sagte wind die beste resultate. Net so is dit die sagte wind van die Heilige Gees van God wat water voortbring; wat die vermoë het om geskrewe word te omskep in Lewende Woord. Daar staan geskryf dat geen mens kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees. (1 Korinthiërs 12:3) Net so kan geen mens die egtheid van die Woord erken sonder die Heilige Gees nie. Paulus skryf ook aan die kerk in Efese dat God sy verborgenhede aan hom bekend gemaak het deur die Heilige Gees. (Efesiërs 3: 4 – 5)
Die Bybel is maar net ‘n boek, totdat ons toelaat dat God ons vul met sy sagte soet Heilige Gees. Dan sal ons gou sien dat Christus die groot onderwerp is, ons welsyn die ontwerp is en die heerlikheid van God die begin en die einde van die Woord is.
Kom ons lees die Bybel om wys te word, glo dit om gered te word en pas dit toe om heilig te wees. Die Bybel bevat lig om ons te lei, voedsel om ons te onderhou en troos om ons op te beur. Dit is die reisiger se padkaart, die pelgrim se wandelstok, die stuurman se kompas, die soldaat se swaard en die Christen se grondwet.
Laat ons die Bybel dikwels, stadig, en biddend lees. Dit is ‘n myn van rykdom, ‘n paradys van heerlikheid en ‘n rivier van genot. Dit word vir ons gegee in die lewe, sal geopen word op die oordeelsdag en vir ewig onthou word. Die Bybel bevat die hoogste verantwoordelikheid, beloon die grootste arbeid, en veroordeel almal wat teenstrydig is met sy heilige inhoud.”
Ek bid dat die Here deur Sy Heilige Gees, die Woord (Bybel) lewend in ons sal maak, sodat ons ook in staat sal wees om Lewende Water voort te bring aan ‘n sterwend of dooie wêreld.