Padlangs Huistoe Oggend Boodskap :: Die Bybel se primêre doel is om God aan ons te openbaar. Wanneer ek dit sê, sluit ek graag God die Vader, Sy eniggebore Seun, Jesus Christus en Sy Heilige Gees in. Die geskrewe Woord beskryf nie bloot die karakter van die Godheid nie, maar bevestig ook God se begeerte om gemeenskap met ons te hê. Die Bybel is dan die skriftelik bevestiging van God se begeerte om verlorenes, swakkes en versletes te red, te verlos en te genees.
Bygesê, ek het in die afgelope tyd ook gesien, dat mense onwillig is om aandag aan elke detail te gee. Ek sien dit dikwels wanneer mense die beloftes van God sal aanhaal sonder om God se vereistes (bepalings en voorwaardes as jy wil) te oorweeg ten einde die belofte in ontvangs te neem. Ek het dit selfs oor Pinkster gesien, toe baie uitgeroep het vir ‘n nuwe invulling van God se Heilige Gees, maar hulle was nie bereid om op die Here te wag en te bid soos die dissipels in Handelinge 1 en 2 gedoen het nie.
Vandag wil ek beklemtoon dat God steeds praat deur Sy geskrewe Woord, en dat alles wat in Sy Woord vervat is, steeds relevant en van toepassing is op ons. Verder moet ons daarop let dat dit wat nie in God se Woord aangeteken is of bevestig kan word nie, nie van God is nie. As dit nie geskryf is nie, is dit nie gesê nie.
Verder moet ons leer om aandag te gee aan elke detail. Lees meer as ‘n enkele vers. Kyk na die ander verse rondom die vers of kruisverwysings sodat jy die volle konteks kan sien en ‘n duidelike perspektief kan hê van wat gesê word.
Wanneer ons die Woord so lees of bestudeer, moet ons in gedagte hou dat “alles wat in die verlede geskryf is, geskryf is om ons te leer, sodat ons deur die volharding wat in die Skrif geleer word en die bemoediging wat dit bied, ons hoop kan hê.” (Romeine 15:4 – NLV)