Padlangs Dagstukkie
Die Psalmskrywer vra: “ Wat buig jy jou neer, o my siel, en is onrustig in my? (Sien Psalm 42:5)
Terwyl ek na die lied “He is here, right now” luister kom die volgende by my op” Alhoewel ons in ‘n alomteenwoordige God glo, is ons dikwels onbewus van Sy teenwoordigheid in ons lewens.
Ons raak ook dikwels onrustig. Dikwels laat ons toe dat die lewe se seer, pyn en ellende ons lewens regeer. Dit is in sulke tye dat ons in God se teenwoordigheid twyfel. En dan, in ons gebrokenheid, vra ons so maklik waar God is of sê ons dat God ons verlaat het.
Vandag hoop ek om jou te oortuig dat God daar is vir jou. Toe God gesê het dat Hy met ons is en sal wees, het Hy nie gelieg nie. Toe God onderneem het om ‘n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; om die gebrokenes van hart te heel en vrylating aan die gevangenis uit te roep het Hy dit bedoel. As ons God maar net kon sien. Dan sou ons sien hoe naby Hy is. Ons sou ook sien dat Hy nie net om ons is nie maar ook in ons. Hoekom is ons dan so onrustig?
Miskien lê die antwoord in 2 Korinthiers 13:5 wat lui: “Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef. Of is julle nie seker van julself dat Jesus Christus in julle is nie—as julle ten minste nie verwerplik is nie!” Ons ongeloof lei dikwels tot vertwyfeling of onrusting . Ons sê dat ons glo, terwyl ons in twyfel en vrees leef. Ons sê dat ons glo, terwyl ons Hom nie in ons eie lewens kan raaksien nie.
Die Psalmskrywer skryf verder in Psalm 42:5 “Hoop op God; want ek sal Hom nog loof—die verlossing van sy aangesig!”
Laat ons dan ons hoop, in geloof, in God plaas, Hom loof en prys sodat ons ook die heerlikheid van Sy teenwoordigheid kan ervaar.
In nog ‘n lied skryf ‘n liedjieskrywer: “Reach out and touch the Lord, as He passes by. You will find He’s not too busy to hear your hearts cry. He is passing by this moment, you’re needs to supply. Reach out and touch the Lord as He passes by.” Sal ons dan nie na die Here uitreik en sy uitgetrekte hand gryp eerder as in vrees te lewe nie?
Liewe Here, Ek kom nederig voor U en vra dat U ons sal vul met geloof sodat ons ook U sal loof. En dan glo ek dat U, wanneer ons U loof, ons onrustigheid sal verdryf. Ek bid dit in Jesus naam – Amen
Die Here is hier. Kom dan, kom ons gryp Hom aan.