PADLANGS HUISTOE NAWEEK BOODSKAP

Telkemale wanneer ons die kruisgebeure in herrinnering roep dink ons aan die vers in Jesaje 53 wat lees: “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.” (Jesaja 53:5) Dan onthou ons dat Jesus in ons plek gesterf het sodat ons gered, bevry en genees kan word. Jesus neem ons sonde op Hom sodat ons dit nie meer hoef te dra nie. Jesus sterf sodat ons kan leef. Jesus bloei sodat ons genesing kan ontvang.

Maar die kruisdood van Jesus ook twee ander dinge bewerkstellig. Toe Jesus in die negende uur uitroep en sê: “Eloï, Eloï, lamma sabagtáni?” oftewel “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Markus 15:34) is Hy deur God verlaat sodat ek en jy nie deur God verlaat sal word nie. Dit is juis deur die kruis dat ons kan sê dat God ons nooit sal begewe en nooit sal verlaat nie. (Sien Hebreërs 13:5)

En toe Jesus sê: “Dit is volbring!” sy hoof buig en sterf (Johannes 19:30) het Hy alles gedoen wat nodig was om ons te red. Tog, vra dit geloof om gered te word; geloof in Jesus Christus, die Seun van God wat gesterf het sodat ons gered kan word.

Maar wyl Hy deur Sy grootse genade alles gedoen het wat nodig was is dit steeds nodig om erkenning te gee aan dit of ‘n oorgawe te maak. En al sou talle reken dat ons niks met ons saligheid te make nie wil ek graag wys op die rol van geloof. Die volgende skrifte staan soos ‘n paal bo water.

Johannes 1:12 “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo”

Johannes 3:18 “Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.”

Johannes 20:31 “maar hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam.”

Romeine 10:11 – 13 “Want die Skrif sê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie. Want daar is geen onderskeid tussen Jood en Griek nie; dieselfde Here tog is Here van almal en is ryk oor almal wat Hom aanroep. Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.”

Jesus het selfs gesê: “ julle wil nie na My kom om die lewe te hê nie.” (Johannes 5:40)

God se reddende genade is deur die geloof (in Jesus Christus en Sy dood) tot elkeen se beskikking. Maar sou ek en jy die rug draai op hierdie reddende genade is ons net soos diegene wat nie na Jesus kom om die lewe te hê nie.

Maar waar kom die geloof vandaan. Romeine 10:17 lui: “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.” Hoe sal ons dan kan glo as die Woord nie aan ons gebring word nie? En as die Woord gebring word, hoe sal ons dan nie glo nie?

Jesus staan vandag steeds by die deur en klop. Hierdie boodskap en talle ander uitroepe om God te dien vorm deel van Jesus se geklop. En sou ons in geloof die deur oopmaak sal hy met ons maaltyd hou. (Openbaring 3:20)

En ai, onthou tog dat sou die geloof tekort skiet, kan ons ook bid: “Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp!” (Sien Markus 9:24)

Social Share Buttons
Previous post Sien hulle Jesus in my
Next post Saterdagaand Kampvuur 9 van 19 November 2022

Goto Top