Padlangs Huistoe Oggend Boodskap :::::::
Handelinge 27:38 wat lui: “En nadat hulle met voedsel versadig was, het hulle die skip ligter gemaak deur die koring in die see te gooi.”
Paulus was ‘n gevangene aan boord van die skip wat koring vanaf Alexandrië na Italië vervoer het. Die koring is waarskynlik in Egipte verbou. Daar word geglo dat die koring ‘n aantal doele kon dien. Die eerste was kommersieel, aangesien dit verkoop kon word. Die tweede was voorsiening vir die bemanning en passasiers sodat hulle kan eet. Derdens, omrede dit in die buik (onder in die vragruim) van die skip gelaai is, het dit as ‘n teengewig opgetree, wat die skip balans of stabiliteit gegee het.
Gedurende die eerste fase van hul reis het hulle probleme gehad om te seil en het hulle aansienlik tyd verloor. As gevolg van die wind het dit gevaarlik geword om te vaar soos aangedui in Handelinge 27: 7-9. Volgens Handelinge 27:13 het ‘n sagte briesie begin waai en dit het veilig gevoel om voort te gaan. Maar dan breek alle hel los toe hulle ‘n hewige storm teëkom in Handelinge 27:14 – 17. Daar word gesê dat hulle niks kon doen nie en dat die skip deur die wind meegesleur is. Hulle het selfs toue onderdeur en om die skip gebind om dit te versterk. Uiteindelik het hulle maar die seil laat sak. Vir ‘n aantal dae kon hulle nie eens die son of die sterre sien nie omrede die storm dit nie toegelaaat het nie. Dit was so erg dat hulle uiteindelik hoop verloor het om lewendig daar uit te kom. (Handelinge 27:20) Na veertien nagte het hulle naby ‘n eiland gekom. Paulus, ‘n gevangene aan boord van die skip, het almal aangemoedig om te eet. (Handel inge 27: 33-37) Nadat die mense soveel geëet het as wat hulle wou, het hulle die skip ligter gemaak deur die koring (hul vrag en voorrade) in die see te stort. Hulle het toe skipbreek gelei en gestrand maar elke persoon aan boord was gered.
Ek en jy staar ook omstandighede of verskillende seë en storms in die gesig. Dikwels is dinge moeilik. Ons maak min (stadig) vordering. Dan kom daar tye van sagte briesies. In hierdie tyd dwaal gelowiges dikwels af. Ons ontspan en verloor ons waaksaamheid. Dit is in hierdie tye dat ons dikwels verkeerde besluite en verkeerde paaie neem. Maar daar is ook rampspoedige tye wanneer ons alles verloor. Die moeilike tye laat ons gou verval in desperaatheid en desperaatheid lei dan weer tot hopeloosheid.
Dit is wanneer ons op ons swakste voel, as ons moeg en uitgeput is, wanneer hoop verdwyn en ons geloof swak word, dat ons die koring oorboord moet gooi. Hierdie koring wat ons besittings en sekuriteit verteenwoordig, moet oorboord gegooi word. Ons kan nie meer aan ons goed vashou nie. Ons moet laat los omdat dit beter is om ons besittings en sekuriteit te verloor as om ons lewens te verloor. Ons moet laat los en God se wil laat geskied. Ons moet weer ons geloof (vertroue) in Jesus Christus alleen plaas.
Hoe het Paulus op die storms gereageer? In Handelinge 27:25 bevestig hy sy geloof (vertroue) in die Here. Ons sien dat hy dankbaar gebly het en die Here dank vir die brood voordat hulle geëet het. (Handelinge 27:35) Paulus het diegene rondom hom aangemoedig en woorde van geloof en hoop in hul lewens gespreek. (Handelinge 27:22) Paulus het die ander ook aangemoedig om die storm te verduur en gemaan dat diegene wat probeer om vroeg uit die skip te klim, geen hoop het om aan die lewe te bly nie. (Handelinge 27:31)
My boodskap vandag is dat ons, die gereddes, ook veilig sal wees. Ons sal dit maak wanneer ons, ons geloof in die Here stel, aanhou om Hom te dien en dankbaar bly vir alles wat Hy gedoen het. Laat ons die skip ligter maak deur die koring (dinge wat ons verhouding met God belemmer) in die see te stort.