Padlangs Huistoe Oggend Boodskap :::: Phillips, Craig and Dean sing “I choose to believe” Die koorgedeelte lui: “I Choose to believe and never give up hope. God is good. He’s in control. I’ll keep the faith, I trust in His way. Even when His face is hard to see I choose to believe”

Talle vrees die toekoms of is bang vir wat môre mag bring. Misdaad veroorsaak dat mense in hul broeke bewe. Wanneer ons aan ons kinders dink, raak ons angstig oor hul toekoms en wat dan van hulle sal word. Ons vrees dikwels ook siekte en die dood. Dan het ons diepe kwellinge oor ons finansies en werk, wat ook tot vrees lei. Baie vrese is diep gewortel in ons terwyl ander sommer vlak onder ons dun velletjies lê.

Vrees bepaal dikwels hoe ons dag gaan verloop, in watter bui ons gaan wees of hoe ons gaan optree. Vrees motiveer ons om te veg of om te vlug. Baie Suid Afrikaners het al uit ons pragtige land gevlug weens vrees vir misdaad, vrees vir die toekoms en vrese oor werk. Maar wat doen vrees? Vrees maak ons deurmekaar, verwar ons, maak ons blind, neem ons gevange en vernietig ons ten einde. Vrees gee tande aan die duiwel of veroorsaak dat die vyand selfs groter lyk.

Terwyl talle kanker vrees, is vrees die kanker van geloof. Geloof trek ons nader aan God terwyl vrees ons van Hom distansiëer. Geloof bring God in beweging maar vrees veroorsaak dat ons weg van God beweeg. Geloof weet dat God alles kan doen terwyl vrees God as magteloos beskou. Opmerklik is dat geloof alle vrees verdryf terwyl vrees die vyand van geloof is.

Job sê: “As ek iets vreesliks vrees, kom dit oor my; en die ding waarvoor ek bang is, kom na my toe.” Jairus gaan na Jesus terwyl sy dogter sterwend lê. By sy aankoms by Jesus laat weet hul hom dat sy gesterf het. En dan spreek Jesus hierdie woorde: “Moenie vrees nie, glo”

Vandag kies ek ook om te glo eerder as om te vrees. Kom ons vergelyk vlugtig vrees en geloof:

Vrees sê: “Ek weet nie wat môre gaan bring” Geloof sê: “Ek weet God hou môre in sy hand!” Vrees skree: “Misdaad” Geloof antwoord: “God sal my beskerm!” Vrees vra beangs: “Wat gaan van ons kinders word?” Geloof sê dat God hul onder sy vleuels hou. Vrees vra: “Hoe gaan ek alles betaal?” Geloof weet dat God sal voorsien.

Vrees neem mense gevange terwyl geloof vry maak. Vrees maak dat ons moedeloos raak terwyl geloof ons moed gee. Vrees veroorsaak dat ons hopeloos voel terwyl geloof hoop bring. Vrees bring hartseer terwyl geloof vreugde gee. Vrees maak dat ons hulpeloos en nietig voel terwyl geloof ons vlerke gee. Vrees bring siekte terwyl geloof genesing bewerkstellig. Vrees kan tot die dood lei terwyl geloof lewe gee.

Maar vrees bekruip ons dikwels, dreig ons en gryp ons. Hoe maak ons dan? Ons besluit om te glo en roep God aan. Ons maak gebedsake van ons vrese. Ons loof God, dank hom selfs vooruit vir verlossing en bevryding. Geloof sê immers by voorbaat dankie, selfs voordat ons die wonderwerk sien.

Kies om te glo: “Wees sterk en vol moed, en voer dit uit; vrees nie en wees nie verskrik nie, want die HERE God, my God, sal met jou wees; Hy sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie, totdat jy al die dienswerk aan die huis van die HERE voltooi het.” (1 Kronieke 28:20)

Social Share Buttons
Previous post Terwyl ek hier sit
Next post Saterdagaand kampvuur – 1 Oktober 2022

Goto Top