Padlangs Dagstukkie

“Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoonlik?” (Jeremia 32:27 – Nuwe Afrikaanse Vertaling)

Die Israeliete was in slawerny. God het tien plae gebruik om hulle te red en daarna het Hy die see vir hul oopgemaak sodat hul daardeur kon loop. (Eksodus 8-12 en 14) Toe die Israeliete by die bitter water van Mara kom, het God die water soet gemaak. (Exodus 15) Toe Jerigo se mure ondeurdringbaar voor die Israeliete staan, het God dit neergevel. (Josua 6) Is daar enigiets onmoontlik vir die Here?

Toe Elía water oor die brandhout en offer gooi, het God vuur uit die hemel gestuur en dit aan die brand gesteek. (1 Konings 18) Toe Naäman melaatsheid kry, het God hom gesond gemaak. (2 Konings 5) Toe die weduwee se seun sterf, het God hom opgewek. (1 Konings 17). Toe ‘n werksman sy gereedskap (byl) verloor, het God die ysterbyl laat dryf. (2 Konings 6) Jona sondig en word in die see gegooi, maar God stuur ‘n vis om hom te red. (Jona 2) Sadrag, Mesag en Abednego is in ‘n vuuroond gegooi. Daniël is in ‘n leeukuil gegooi, maar God het hulle almal gered. (Daniël 3 en 6) Is daar enigiets onmoontlik vir die Here?

Jesus het ‘n blinde man laat sien, ‘n verlamde man genees en die dogter van Jaïrus uit die dood opgewek. (Markus 8, Markus 2 en Markus 5) Jesus het duisende gevoed met net ‘n paar brode en visse. (Mattheus 14) Kort daarna het hy Petrus verlos van verdrinking terwyl Hy op die water loop. (Matteus 14). En toe hulle rekeninge (belasting) moes betaal, het Jesus voorsien deur ‘n vis met ‘n muntstuk in sy mond te laat vang. (Matteus 17) Is daar enigiets onmoontlik vir die Here?

Jesus het gesterf, God het Hom opgewek. As gevolg hiervan kan ons gered word. Is daar enigiets onmoontlik vir die Here?

Maak nie saak wat jy vandag ervaar nie, niks is onmoontlik vir die Here nie. Al wat ons moet doen is om te glo, of om op Hom te vertrou en dan sal ons sekerlik gered, verlos en genees kan word. Wanneer ons glo, sal God in elke behoefte voorsien volgens Sy wil, plan en doel vir ons lewens.

“Is daar enigiets onmoontlik vir die Here? Nee daar is niks onmoontlik vir die Here nie!”

Social Share Buttons
Previous post Ons kan ons vertroue in die Here plaas
Next post Aan alle dissipels

Goto Top