Padlangs Dagstukkie

Ek hoor dikwels gesprekke en boodskappe oor die bloed. Maar, dit wil voorkom asof ons ‘n nuwe bewondering gekry het vir die bloed en die kruis, eerder as om te glo in Jesus Christus, wie se bloed vir ons gestort is. Ons kyk met oë vol verwondering na die kruis, sien die bloed as iets met magiese krag. Ons kyk na die bloed, sien die moontlikhede, praat daarvan en draai dikwels terug na ons ou en dikwels ellendige bestaan.

Ongelukkig staar baie hul blind teen dit wat Jesus gedoen het, sonder dat hul God se reddende genade ervaar deur Jesus te aanvaar, die Een wat vir ons gebloei het. Lank gelede het ek gesien hoe ‘n trop leeus die karkas van ‘n springbok verskeur. Daardie dag het ek ‘n blik gekry van hoe Jesus se rug moes gelyk het, nadat hy male sonder tal geslaan is met ‘n sweep, met stukkies been en metaal daarin gevleg. Het jy al gedink hoeveel bloed het uit Sy voete gevloei, of uit Sy hande wat eens ander aangeraak en genees het? Het jy al gedink hoeveel bloed het oor Sy gesig, en selfs in Sy oë gevloei vanwee die doringkroon op Sy kop? Kan jy jouself indink hoe dit gelyk het toe die soldaat sy spies in Jesus se sy gesteek het? Bloed en water het gevloei. Elke drupel bloed is gestort vir my en jou, sodat ons kan lewe.

In Biologie is ons geleer van bloed; van wit bloedselle, rooi bloedselle en bloedplaatjies. Maar die bloed van Jesus was meer as ‘n samestelling van elemente. Dit is deur hierdie bloed dat ons verlos is (Efesiërs 1:7), dat ons vergewe is van sonde (Kolossense 1:14), dat ons geregverdig is (Romeine 5:9), dat ons geheilig is (Hebreërs 13:12) en met God versoen is (Kolossense 1:20).

In moderne teologie is daar ‘n beweging wat vertel dat die kruis en Jesus se grusame dood minder belangrik is as Sy opstanding. Dit gebeur selfs dat predikante eerder oor die opstanding preek as Jesus se kruisdood. Maar laat ek dit nou maar duidelik stel; Sonder die kruis sou daar geen opstanding wees nie. Sonder die bloed van Jesus sou ons nie die derde dag gehad het nie. Kyk weer na Johannes 3:16 of selfs Johannes 15:13. In beide gevalle word daar verwys na Jesus se dood. Kyk nou ook weer na Jesaje 53:10 wat sê dat dit die Here (God) behaag het om Jesus te laat verbrysel, selfs tot die dood. Selfs al sou Jesus nie opgestaan het nie, sou Sy dood voldoende gewees het tot redding. Laat my verduidelik. In die Ou Testament is ‘n lam doodgemaak en ge-offer tot vergifnis van sonde. Hierdie lammertjies het nooit opgestaan of uit die as verrys nie, tog het daar vergifnis van sonde geskied. Die lam was ‘n tipe van Jesus wat so u kom. As die lam se dood dan voldoende was, hoekom word Jesus se dood dan so gering geag? Kom dan, laat ons nie bedrieg word deur diegene wat beweer Jesus se opstanding is belangriker as Sy dood nie. Laat ons nie Golgota veruil vir die leë graf nie.

Jesus het ons met twee dinge gelaat. Die eerste is Sy naam en die tweede is Sy bloed. Wanneer ons Jesus aanvaar en veral Sy dood aan die kruis sal ons in staat wees om God se liefde, vrede, vryheid en krag ervaar. Wanneer Jesus se bloed meer is as ‘n objek van bewondering, sal ons die voordeel daarvan trek. Deur Sy bloed, kan ons in God se teenwoordigheid kom, kan ons redding, vrymaking, genesing, beskerming en selfs Sy voorsiening geniet.

Laat ons dan nie die kruis en die bloed bloot bewonder nie, maar laat ons deur die bloed tot God gaan en Hom alleen dien.

Jesus van Nasaret is ook Jesus van Golgota.

Social Share Buttons
Previous post Die Here is hier. Kom dan, kom ons gryp Hom aan.
Next post Saterdagaand Kampvuur 15 van 31 December 2022

Goto Top