Padlangs Dagstukkie
Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen. (Mattheus 6: 9-13)
Terwyl baie hierdie gebed bid, blyk dit daar slegs ‘n paar is wat die die orde deur God bepaal raaksien en verstaan. Talle mense, gedryf deur hul eie behoeftes en begeertes, spring na die gedeelte “Gee ons vandag ons daaglikse brood” sonder om God se orde in oorweging te bring. Kom ons neem die gebed net weer in oênskou.
Eerstens , wanneer ons bid moet ons erkenning gee en eer bring aan God die Vader wat ons eie (persoonlike) Vader geword toe ons sy eniggebore Seun as Verlosser aanvaar het. (Johannes 1:12) Maar ons moet ook toelaat dat God Sy Koninkryk kom vestig. Die frase “Laat u koninkryk kom” verwys na twee komste, naamlik die wederkoms wanneer ons met God herenig sal word, maar ook die vestiging van God se koninkryk te midde of binne in ons, in ons daaglikse lewe op hierdie planet.
Wanneer ons die Here Jesus Christus as ons Verlosser aanneem, maak ons God die Koning van ons lewens. Wanneer ons, ons lewens aan God wy gee ons aan God die gesag om te heers en te regeer, te leer en te onderrig, te rig en te lei. Tydens bekering en wedergeboorte word God die Vader die allerhoogste gesag in ons lewens.
Maar wanneer ons God Koning bo alle konings en Here bo alle here maak, onderwerp ons ook onsself aan God se wil of Sy groter plan en doel in ons lewens. God se wil vir ons is dat ons gelykvormig sal word aan die beeld van sy Seun, of dat ons meer soos Jesus sal word. (Romeine 8:29) Met ander woorde, God se wil of begeerte is gefokus op ons wese (wat ons behoort te wees) en nie ons begeertes nie.
Ongelukkig, wanneer God nie voldoen aan die wil van die mens, of nie doen wat ons verwag raak gelowiges ongelukkig of ontevrede met God. Hulle raak maklik teleurgesteld as God nie gee wat hul eis of in bestaan roep nie. (dikwels in Jesus naam). Die situasie word dikwels vererger deur die verkondiging van die voorspoedleer (prosperity) wat leer dat dit God se wil is dat almal voorspoedig (ryk) kan wees. Dit is teenstrydig met God se begeerte vir Geestelike groei. Vir God is dit meer belangrik vir ons siele om te floreer as om geld in die bank te hê.
Laat ons versigtig wees wat ons bid, elke keer as ons bid. Die Woord sê in Mattheus 6:33 dat ons eers moet soek (verlang) na die koninkryk van God. Ons sien ook Jesus self bid tot die Vader en sê: “nie my wil nie, maar u wil geskied.” (Lukas 22:42) God hoor ons gebede, Hy antwoord ook steeds gebede, maar ons moet Hom toelaat om Sy regmatige plek in ons lewens op te neem. Dan, wanneer Sy Koninkryk in ons gevestig is, moet ons Hom ook die ruimte bied om Sy wil in ons te laat geskied voordat ons, ons kruidenierslys voor Hom bring.