Padlangs Huistoe Maandag oggend Boodskap

“Die parskuip staan vol druiwe maar daar is geen sap om te drink nie” terwyl die druif uitroep: “Moenie op my trap nie!” Maar daar kom ‘n tyd, en dit het begin dat die landbouer gaan trap, nie om ons te vernietig maar om die beste in ons uit te bring.

In Mattheus 6: 10 leer Jesus ons om te bid: “laat U wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel” Later in Mattheus 26 bid Jesus en sê: “Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.”en later “laat U wil geskied.” Kort hierna word Jesus gevange geneem, gemartel en gekruisig. “Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil” En dan sterf Jesus ‘n grusame dood aan die kruis te Golgota.

Ek hoor dikwels mense bid: “laat U wil geskied.” Ek wonder egter of hul dit bedoel. Telkemale, wanneer ons bid, gee ons ‘n kruidenierslys of lys van benodighede aan die Here. Dan, net voordat ons “Amen” sê, druk ons die woorde “laat U wil geskied” in – dikwels sonder om die impak of implikasie daarvan te besef of te verstaan.

Is ons werklik bereid om alles te aanvaar wat die Here na ons kant kan gooi of bloot net toelaat? Stefanus was in God se wil maar is gestenig tot die dood. Johannes is onthoof. Paulus was gevange geneem, moes skipbreuk ly, ‘n doring in die vlees verdra en ook uiteindelik sterf ter wille van die Evangelie. Selfs Maria, die moeder van Jesus moes toekyk hoe haar eie kind sterf.

‘n Tweede probleem onder gelowiges is dat ons dikwels voorskriftelik bid. Ons wil aan die Here voorskryf wat Hy moet doen, wat Hy moet gee en selfs op welke manier Hy dit kan doen. ‘n Man koop ‘n lotery kaartjie en bid dan om te wen. Ek onthou ‘n vreemde versoek waar ‘n vrou wat swanger was met ‘n seun wou hê ‘n dogter moet gebore word. Sommige bid vir ‘n betrekking naby aan die huis met kort ure en ‘n groot salaris. Dan natuurlik hoor ek mense in gebede sê: “Ek eis dit” En “Ek beveel” Maar, sou ons werklik die Here se wil in ons lewe soek sal ons geredelik moet aanvaar dat God nie noodwendig gee wat ons vra nie. Ons gaan heel waarskynlik nie ‘n lotery wen nie, maar ons sal genoeg hê. Ons gaan nie ‘n dogter hê maar ons seun kan die volgende “Billy Graham” wees. Ons kry dalk nie die betrekking naby die huis nie maar God stuur ons na ‘n klein verlate gehuggie waar ons Jesus kan verkondig.

Ek kan jou nie rykdom, weelde, gesondheid en ‘n lang lewe belowe nie. Ek kan jou nie waarborg dat jy alles sal kry wat jy begeer nie. Iewers sê iemand nou: “maar die Woord sê alles wat ek vra sal ek verkry” Dan vra ek: “Is dit God se wil vir jou” Laat my verduidelik: My eie pa is gediagnoseer met asbestose en is twee weke gegee om te leef. Ons het gebid, en gebid. Ten spyte hiervan is hy nie genees nie maar die Here het sy lewe verleng. Meer as 14 jaar later is my pa oorlede. Hy was 24 uur per dag aan suurstof gekoppel, hy kon nie meer loop of baie praat nie. Maar, in hierdie tyd het die Here hom gebruik om te getuig en ander te bemoedig. Ten spytte van sy siekte kon hy steeds ‘n boodskap van hoop en verlossing aan ander bring.

Die skrif sê dat ons die koste moet bereken om kind van God te wees. Dit is dalk moeilik om in God se wil te wandel en te wees, maar God is al wat ons nodig het. Laat ek jou egter verseker: Jy sal dalk nie alles kry wat jy vra of begeer nie, maar jy sal altyd kry wat jy nodig het.

Ek bid “laat U wil geskied.”Ja, rerig Heer “laat U wil geskied.”

Social Share Buttons
Previous post Saterdagaand Kampvuur 7 van 5 November 2022
Next post Ons is nog aan die groen kant van die gras

Goto Top