Padlangs Huistoe Donderdag Boodskap
In 1 Petrus 1:16 word ons geroep om heilig te wees, want God is heilig. Om heilig te wees beteken om afgesonder te wees vir God. Dit vereis egter ook dat ons die ou sondige natuur agterlaat. 1 Petrus 1:14 lees: “Julle moet dus leef as gehoorsame kinders van God. Moenie terugval in u ou lewenswyses om aan u eie begeertes te voldoen nie.”
Ek glo dat ons weerstand teen heiligmaking of om heilig te leef voortspruit uit die feit dat ons nie die verskil tussen regverdigmaking en heiligmaking (om heilig te leef) verstaan nie. Deur geloof word ons deur die genade van God geregverdig. (Romeine 3: 23-24) Tydens hierdie proses verwyder God die straf van sonde en die skuld wat sonde meebring.
Daarenteen is heiligmaking ‘n reaksie van die gelowige op God se genade daad van verlossing en regverdigmaking. Sodra ons gered is deur God se reddende genade en deur God se regverdigmakende genade geregverdig of regverdig gemaak is, kan ons nou ‘n beroep doen op die lerende of onderwysende genade van God wat ons leer om ons goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, terwyl ons leer om ingetoë, regverdig en vroom te lewe, (Sien Titus 2: 11-12)
Ons moet egter ook let dat Paulus diegene wat in hule eie vlees of diegene wat die wet slaafs navolg, dwase noem. (Galasiërs 3) Verder het Jesus self gesê dat ons niks sonder Hom kan doen nie (Johannes 15: 5). Dit is daarom van die uiterste belang dat ons die Here toelaat om heiligmaking in ons te werk of te begin sodat ons heilig kan leef. Dan, deur die bemagtigende genade van God, kan ons die ou en sondige natuur agterlaat en oorgaan na ‘n nuwe Godgesentreerde, Godgerigte en Godwelgevallige lewe.
Volgens God se genade is ons regverdig. Ook deur die genade van God kan ons ‘n heilige lewe lei; ons kan alle dinge doen deur Christus wat ons krag gee. (Filippense 4:13) Immers, deur Sy goddelike krag het Hy ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien. (2 Petrus 1: 3)
Ons hoef dus nie te kies tussen genade of heiligmaking soos sommige mense wil hê ons moet doen nie. In plaas daarvan kan ons, ons op die genade van die Here beroep om ons in staat te stel om heilige lewens te leef – lewens afgesonder vir God.