Padlangs Huistoe Oggend Boodskap

Psalm 34: 4 Maak die HERE saam met my groot, en laat ons saam sy Naam verhef!

In die afgelope tyd het talle Psalm 91: 3 – 7 aangehaal wat vertel van die Here se beskerming en voorsiening. Maar sou ek vers 2 lees, is dit duidelik dat ons die Here ons toevlug en my bergvesting moet maak, die Een op wie ons vertrou. Dit kom dus voor asof dit oor meer as ons gaan, dit gaan ook oor die Here wat weer toegelaat moet word om Sy regmatige plek in ons lewens in te neem. Ons moet toelaat dat God weer Koning van konings en Here van die here in ons lewens word.

Die Here onse God is baie meer as ‘n vriend in nood. Hy is meer as ‘n regterhand of ‘n “go-to-God” in moeilike tye. Hy is meer as die som van al Sy goeie dade.

In Filippense 4: 4 gee Paulus ons die opdrag: “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!” In die Skrif word herhaling gebruik om’n opdrag te beklemtoon. Dit is dus veilig om te sê dat dit uiters belangrik is om ons te verbly of bly te wees in die Here. Maar ons verbly ons nie net oor wat die Here gedoen het nie, maar ook in wie Hy is. Ons is bly omdat ons in Sy heilige teenwoordigheid kan ingaan. Ons is bly daaroor dat ons nog steeds met Hom gemeenskap kan hê. Ons verbly ons omdat Hy met ons is, in tye van groot vreugde en selfs in tye van droefheid.

Paulus herhaal sy opdrag in 1 Tessalonisense 5:16 waar hy sê: “Wees altyddeur bly.” Maar wat dan van tye van beproewings, verdrukking, pyn of hartseer? Paulus gee ook ‘n antwoord hierop toe hy gesê het dat hy altyd opgeruimd (bly) is, selfs in tye van droefheid. (Sien 2 Korintiërs 6:10)

Ek word ook herinner aan Habakkuk 3:17 – 18 wat lui: “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie – nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.

Laat ons bly wees. Laat ons jubel en juig in die Here, want Hy is nog steeds die Koning van die konings en die Here van die here. Hy is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. En dit is in Hom, deur Jesus Christus, dat ons lewe en lewe in oorvloed kan hê. (Johannes 10:10)

Maak die HERE (wat lofwaardig is) saam met my groot, en laat ons saam sy Naam verhef! (Sien Psalm 34: 3 sowel as 2 Samuel 22: 4)

Social Share Buttons
Previous post Laat elke dag tel.
Next post Ongeag waar jy jouself bevind, daar is ‘n pad na Jesus.

Goto Top