Padlangs Gedagte vir die Dag
Die vraag wat ek die afgelope tyd gevra het of gevra is, is hoe ons steeds kan jubel of myself verheug (blydskap of vreugde kan hê) as die vyeboom nie blom nie, as daar geen vrugte in die wingerdstokke is nie, wanneer die olyfboom geen vrugte produseer of wanneer daar geen vee in die veld of kudde in die stal is nie? (Kyk Habakkuk 3:17)
Die antwoord op hierdie vraag word gevind in Habakuk 3:18: “Nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.”
As gelowiges moet ons dit alles louter vreugde ag, wanneer allerhande versoekinge en verdrukkinge ons pad langs kom. (Sien Jakobus 1: 2) Maar waarom? Die belangrikste rede is dat geloof groei waar vreugde oorvloedig is. Ons geloof word ‘sigbaar’ as ons in staat is om ons te verheug selfs vir gebede wat nog nie beantwoord is nie, of uitkomste wat nog nie gesien is nie.
Hoe raak ons vreugdevol as ons omring word deur soveel onrus, as ons voor beproewing en verdrukking te staan kom? Ons verheug ons egter nie “vir” beproewinge en verdrukkinge nie maar verheug onsself ten spytte van beproewinge en verdrukkinge. Ons verbly ons dat Jesus gesalf is om ‘n blye boodskap te bring aan die ootmoediges, om gebrokenis van hart te verbind, om vrylating van gevangenes uit te roep, om die treurendes te troos, om ook sieraad vir as, vreugde-olie vir treurigheid, ‘n gewaad van lof vir ‘n verslae gees te gee. (sien Jesaja 61: 1-3). Ons verbly ons in die Here, wat ons beklee met die klere van heil en die mantel van geregtigheid. (Jesaja 61:10)
Volheid van vreugde spruit nie uit ons eie vermoë nie en is ook nie die resultaat van positiewe denke of selfs positiewe belydenis nie. Volheid van vreugde spruit uit die wete dat Jesus Christus, die Here van alles, in ons is en met Hom in ons, loop ons ‘n bende storm, en spring ons oor ‘n muur. (Psalm 18:30)