Padlangs Huistoe Oggend Boodskap == Deur die eeue het die mens gepoog om God se grootheid te beskryf of te besing. Sou ons deur die Psalms lees sal ons gou agterkom dat elke Psalmskrywer lofliedere sing oor die grootheid van God wat waardig is om te loof en prys Selfs in ons meer moderne tye het baie skrywers en liedjieskrywers probeer om God se grootsheid in woorde en lirieke te beskryf.
Ons sing liedjies soos “Our God is an awesome God”, “How great is our God” en die gunsteling van alle tye “Hoe groot is U”. Tog kan nie een van hierdie liedere die omvang van God se grootheid, Sy groot liefde en groot genade ten volle omskryf nie. Al probeer ons hoe hard, sal woorde nooit genoeg wees nie, want ons kan eenvoudig nie die volle omvang van God se grootheid begryp nie. Dikwels stotter of struikel ek oor my eie woorde as ek probeer om God se onbeskryflike, nimmereindigende, ewige grootsheid te beskryf of te verklaar.
Dit bring my by die mens se onvermoë om te verstaan waarom God ons so lief gehad het dat Hy Sy seun gegee het om in ons plek te sterf (Johannes 3:16), of waarom Jesus vir ons, sondaars wat verdien het om te sterf, so lief gehad het dat Hy bereid was om in ons plek gekruisig te word en te sterf, sodat ons die ewige lewe kan verkry. (Romeine 5:
Maar dan vra die Here ons nie om dit te verstaan nie. Al wat Hy van ons vereis, is om te glo of om geloof te hê. Al wat Hy van ons wil hê, is om te antwoord as Hy roep, om die deur oop te maak as Hy klop en Hom te volg soos ‘n skaap ‘n herder volg. Al wat Hy verlang is dat ons Sy liefde aanvaar en ons lewe ten volle aan Hom moet wy.
Ek snap of verstaan dit nog nie, maar ek glo! En omdat God, God is en daar niemand anders is soos God nie, kan ek niks anders doen as om God te vertrou om God in my te wees en Sy grootheid deur my te openbaar, sodat ander Hom kan sien, Hom kan ken en Sy seën kan ontvang.