Padlangs Huistoe Oggend Boodskap
Vandag wil ek jou aanmoedig deur hierdie illustrasie te gebruik: “Maak nie saak waar jy in Engeland is nie, jy sal altyd ‘n pad na Londen kry.” Net so, ongeag waar jy jouself bevind, daar is ‘n pad na Jesus.
Ons is almal in verskillende plekke of in verskillende ruimtes. Party van ons het in sonde verval of groot foute gemaak. Iemand het dalk gesteel, gelieg of geskinder. ‘n Getroude persoon was dalk ontrou aan sy of haar gade en het hom of haar dalk bedrieg. ‘n Ander mag dalk geskei gewees het of ‘n vrou het ‘n aborsie ondergaan. Maar ongeag van wat jy gedoen het, ongeag van die foute wat jy gemaak het of die sonde wat jy gepleeg het, daar is ‘n pad terug, ‘n pad wat lei tot Jesus Christus en die ewige lewe. Maar op hierdie pad is daar ‘n paar stoppe om te maak; ‘n paar kruisings wat gekruis moet word.
Die eerste ding wat die Here van ons verlang, is om opregte berou te toon. Dan wil die Here hê dat ons tot Hom moet kom en Jesus Christus as Verlosser moet erken, moet bekeer van ons sondes en God se genadige vergifnis aanvaar. (Lees 1 Johannes 1:9 en Handelinge 2:38-39) Dan sal ons ook in staat wees om Jesus Christus wat in ons woon, te ervaar en te openbaar.
Daar is egter ook diegene wat seer gemaak of seer gekry het. Daar is diegene wat gely het onder die hande van iemand anders. Net so is daar diegene wat toegelaat het dat omstandighede hul van die Here vervreem. Die boodskap aan jou is dieselfde: “Maak nie saak waar jy in Engeland is nie, jy sal altyd ‘n pad na Londen kry.” Net so, ongeag van dit wat met jou gebeur het, daar is ‘n pad wat na Jesus lei.
Maar jy sal ook diegene wat teen jou gesondig het, moet vergewe. Jy sal hul moet vryspreek. (Kolossense 3:13) En as dit voel asof jy dit nie kan doen nie, kan jy die Here vra om in te gryp, om jou die krag en moed te gee om te doen wat die Here van jou vra. Dan, op grond van die Woord, kan ons lewe in oorvloed beleef. (Johannes 10:10) Ons sal God se liefde, God se verlossing, God se bevryding en God se genesende krag in ons lewens ervaar.
Jesus Christus wat was en is en wat kom, is nog steeds binne bereik. As ons net bereid is om ons sondige weë of sondige natuur neer te lê en toelaat dat God in ons kom woon of bly.
Waarom gee ons nie die Here vandag ‘n kans nie?
Nou mag sommiges sê: “Ek het reeds my lewe aan Jesus gegee!” Vir jou sê ek: “Wel gedaan!” Maar laat ons ons onsself daagliks aan die Here oorgee. Laat ons vasbeslote wees om ‘n heilige enafgsonderde lewe voor die Here te lei. Moet nooit toelaat dat sonde ‘n wig vorm tussen die Here en ons of toelaat dat sonde ons vrymoedigheid om God te nader van ons wegneem nie. Amen.