Padlangs Huistoe Dinsdag Oggend Boodskap
‘n Ruk gelede het ek na ‘n lied geluister waarvan die woorde sê dat ons bly moet wees, want ons is nog steeds aan die groen kant van die gras. Dit het my laat dink oor hoe dikwels ons kla oor allerhande beproewings en verdrukkinge, terwyl ons eintlik bly moet wees dat ons nog aan die groen kant van die gras is. Ons moet bly wees want ons lewe nog.
Maar om aan die groen kant of op die gras te wees, impliseer ook dat ons tyd en geleenthede het om dinge te doen wat diegene aan die ander kant of onder die gras nie meer kan doen nie.
Ons het steeds die geleentheid om gered te word deur Jesus as ons Verlosser te aanvaar as ons dit nie gedoen het nie. Selfs vandag klop die Here steeds by die deur hopend om ingenooi te word. (Openbaring 3:20)
Ons het steeds die geleentheid om meer te leer aangaande die Here en om ‘n verhouding met Hom te bou. Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny. (2 Timoteus 2:15)
Ons het steeds die geleentheid om meer soos die Here te word en die vrug van die Gees te dra, wat liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedertierenheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid en selfbeheersing is. (Galasiërs 5:22)
Ons het steeds die geleentheid om ‘n heilige lewe te lei wat die werke van die vlees (sonde) soos owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge daagliks afsterwe. (Sien Galasiërs 5: 19-21)
Ons het nog die geleentheid om lief te hê soos Jesus liefgehad het. Jesus was gewillig en bereid om Sy lewe neer te lê vir ons. (Johannes 15:13)
Ons het steeds die geleentheid om te vergewe soos Jesus vergewe het. Markus 11:25 – 26 sê: “En wanneer julle staan en bid, vergeef as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die hemele is, ook julle jul oortredinge mag vergewe. Maar as julle nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die hemele is, ook julle oortredinge nie vergewe nie.”
Ons het die geleentheid om ander te dien en sodoende ook die Here te dien. In Matteus 25: 34-40 word ons geleer dat wanneer ons vir die geringstes gee, wanneer ons hulle klee en voed, wanneer ons siekes of gevangenis besoek, gee ons aan die Here.
Ons het steeds die geleentheid om die Evangelie van ons Here Jesus Christus te verkondig deur ons getuienis, ons lewe en deur aktiewe evangelisasie. Jesus gee die opdrag: ” Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.” (Markus 16:15)
Ons is nog aan die groen kant van die gras. Kom ons leef soos Christus van ons verlang. Kom ons leef soos Christus wat in ons woon sou leef.