Padlangs Dagstukkie

Was dit Dawid wat Goliat verslaan het of Moses wat die see oopgekloof het? Was dit Josua of die geraas van die Israeliete wat Jerigo se mure laat val het? Was dit Petrus wat genees het of Paulus wat gered het?

Dawid stel dit aan Koning Saul in 1 Samuel 17:37: “ Die HERE wat my gered het uit die klou van die leeu en uit die klou van die beer, Hy sal my red uit die hand van hierdie Filistyn. Toe sê Saul vir Dawid: Gaan, en mag die HERE met jou wees! Dan stap Dawid na Saul en roep uit in 1 Samuel 17:45 Jy kom na my met ‘n swaard en met ‘n spies en met ‘n lans, maar ek kom na jou in die Naam van die HERE van die leërskare, die God van die slagordes van Israel, wat jy uitgedaag het. Dawid het sy vertoue (geloof) in die Here geplaas en in ruil hiervoor gee die Here aan Dawid die oorwinning. Die Here het die klip gestuur en Goliat gedood.

Toe Moses die see nader spreek God tot hom in Exodus 14: 15 – 18 “Wat roep jy na My? Sê aan die kinders van Israel dat hulle moet wegtrek. En jy, hef jou staf op en steek jou hand uit oor die see en kloof dit, sodat die kinders van Israel dwarsdeur die see op droë grond kan trek. En Ek, kyk, Ek sal die hart van die Egiptenaars verhard, sodat hulle agter hulle aan gaan. En Ek wil My verheerlik aan Farao en sy hele leërmag, aan sy strydwaens en aan sy ruiters. En die Egiptenaars sal weet dat Ek die HERE is, as Ek My verheerlik aan Farao, aan sy strydwaens en aan sy ruiters.” En Moses plaas sy vertroue in die Here, lig sy staf en die Here kloof die see oop sodat die volk kan deurtrek soos gesien kan word in Exodus 14:21 – 22 “ Toe steek Moses sy hand oor die see uit, en die HERE het deur ‘n sterk oostewind die see laat wegvloei, die hele nag deur, en die see droog gemaak; en die waters is gekloof. En die kinders van Israel het midde-in die see getrek op droë grond. En die waters was vir hulle ‘n muur aan hul regter— en aan hul linkerkant.

Ons lees in Josua 6 van die val van Jerigo. Dit was die Here wat Josua bevel gegee het om elke dag om die stad te trek. Op die sewende dag moes hul egter sewe keer om die stad trek en dan ‘n harde geraas maak. In Josua 6 :2 se die Here vir Josua: “Kyk, Ek gee Jérigo met sy koning en dapper helde in jou hand.”

Josua het toe sy vertroue in die Here geplaas en die Here het Jerigo in hul hande gegee. Dit word ook bevestig in Hebreers 11:30 Deur die geloof het die mure van Jérigo geval nadat daar sewe dae lank omheen getrek was.

Petrus kom ‘n verlamde tee. Hy besef hy het niks om te gee behalwe Jesus nie. Met geloof in Jesus roep hy in Handelinge 3:6 “Silwer en goud het ek nie; maar wat ek het, dit gee ek vir jou: In die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, staan op en loop!” En net ter bevestiging spreek hy in Handelinge 3:16: En deur die geloof in sy Naam het sy Naam hierdie man, wat julle sien en ken, sterk gemaak, en die geloof wat deur Hom is, het hom hierdie volkome gesondheid gegee in die teenwoordigheid van julle almal.

Paulus, sekerlik die grootste evangelis word deur die tronkbewaarder gevra in Handelinge 16:30: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?” Paulus, deeglik bewus dat hy niemand kan red nie antwoord in vers 31 “Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”

As ons tog maar soos die manne kon wees! As ons maar net van onsself vergeet en ophou om op ons eie of ander mense se krag staat te maak. Al het ons al die vaardighede kan ons nie die reuse self verslaan nie. Ons kan nie deur die see van negatiwiteit op ons eie nie. Ons kan nie die mure van verdrukking of gevangenisskap laat val nie, selfs al skree ons. Ons kan nie genees of iemand red nie. Maar ons kan geloof openbaar. Ons kan ons vertroue in die Here plaas en Hy sal ons gebede verhoor. Hy sal red, genees, bevry en voorsien.

Social Share Buttons
Previous post Sou jy vandag besluit om Jesus weer eerste te stel
Next post Is daar enigiets onmoontlik vir die Here?

Goto Top