Padlangs Huistoe Oggend Boodskap
Dikwels, in getuienisse hoor ons of lees ons dat iemand sê: “Op die regte tyd het God ons gebede beantwoord” of “God het deurgekom vir ons, net toe dit die nodigste was.” Ten spyte van die aanhoor hiervan, bevraagteken ons God, twyfel ons in God of kanseleer ons selfs ons geloof met negatiewe woorde en gedagtes. In die Bybel sien ek dat ‘n man vir 38 jaar by die bad van Bethesda gewag het voordat Jesus hom genees het. (Johannes 5:5) ‘n Ander man was van geboorte af blind voordat hy weer kon sien. (Johannes 9:1) ‘n Vrou het jare lank aan bloeding gely voordat sy genees is. (Markus 5:25) En dan is daar die man aan die kruis, wat eers in sy sterwensuur van sy sonde verlos en gered is. (Lukas 23:42-43)
Ons sê so maklik “Ek bid al vir jare” of “Ek het die Here al gevra.” Ons raak ongeduldig en gooi die speelgoed uit die kot, want God beantwoord nie ons gebede nie – God doen nie onmiddelik wat ons Hom gevra het nie. Dit terwyl God op die regte oomblik wag om ons te seën, op die perfekte moment wag om Homself aan ons te openbaar. Kanse is dat God steeds besig is om ons reënboog te verf.
Jy sê jy bid al so lank, vertrou God al jare vir ‘n finansiële deurbraak. “Ek dink God is nog besig om dit te verf – Hy werk nog aan jou wonderwerk.” Jy sê dat jy nie kan verstaan hoekom jy al vir soveel jare siek is nie, hoekom God jou nie genees nie. “Ek dink God is nog besig om dit te verf – Hy werk nog aan jou wonderwerk.” Jy sê jy stoei al jare met depressie, jy kan nie die rede vir jou bestaan verstaan nie. “Ek dink God is nog besig om dit te verf – Hy werk nog aan jou wonderwerk.” Jy sê dat jy al maande sonder werk sit. “Ek dink God is nog besig om dit te verf – Hy werk nog aan jou wonderwerk.” Jy sê jy bid al jare vir jou eggenoot of kind se bekering. “Ek dink God is nog besig om dit te verf – Hy werk nog aan jou wonderwerk.”
Ons kwoteer dikwels Romeine 8:28 wat lui dat alles ten goede meëwerk. Maar Romeine 8:28 is nie losstaande van Romeine 8:25 nie. Romeine 8:25 praat van geduld wanneer dit sê: “Maar as ons hoop wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding.” Jakobus 5:7-8 spreek van Jesus se terugkoms, maar dit kan ook toegepas word op ons gebeds en geloofslewe. Wanneer dit sê: “ Wees dan geduldig, broeders, tot op die wederkoms van die Here. Kyk, die landbouer wag op die kostelike vrug van die aarde en het geduld daarmee totdat dit die vroeë en die laat reën ontvang het. Julle moet ook geduldig wees; versterk julle harte, want die wederkoms van die Here is naby” sê dit ook dat ons geduldig moet wag totdat Jesus kom om ons gebede te antwoord.
Psalm 27:14 Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die HERE!