Dinsdag Padlangs Dankbaarheid
Sou ek terug kyk deur die eeue is ek dankbaar – dankbaar teenoor God wat die aarde en alles daarop geskape het. Ek is dankbaar dat God Sy Seun, Jesus Christus, gestuur het om te sterf vir my. Dankbaar teenoor Jesus wat wel op Golgota gesterf het.
Kyk ek na vandag is ek dankbaar. Dankbaar dat ek lewe, in vlees en in gees. Dankbaar dat ek gered, verlos en genees is. Dankbaar vir God se vrede en vreugde. Dankbaar vir my gesin, ‘n dak oor my kop en voedsel om te eet.
Kyk ek vorentoe is ek dankbaar. Ek is dankbaar dat God my nie sal begewe of verlaat nie (Hebreers 13:5). Dankbaar dat God my gebede sal hoor (Spreuke 15:29). Dankbaar dat God in my behoeftes en nood sal voorsien (Filippense 4:19). Dankbaar vir innerlike vrede (Filipppense 4:7).Dankbaar dat God my krag gee om enigiets te oorkom (Filippense 4:13).Dankbaar dat God die pad aanwys en vreugde in my herstel (Handelinge 2:28).
Om dankbaar te wees is ‘n uitdrukking van geloof. Kyk gou weer na Hebreers 11:1: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” As ons dan seker is, oortuig is dat God sal voorsien, kom ons dank Hom dan – selfs vir die dinge wat ons nog nie sien nie.