Padlangs Huistoe Oggend Boodskap
Sou God alles wat tussen Hom en ons staan verwyder, wat sal ons oorhou?
Dikwels wanneer ons hoor of lees: “Jy mag geen ander gode voor My aangesig hê nie” (Eksodus 20:3) dink ons aan afgode of beeldjies gemaak van goud, silwer of selfs hout. Ons dink aan mense wat bome, rotse, die son of die maan aanbid.
Daar is egter baie meer gode wat mense aanbid; baie meer afgode waarvoor ons buig. As God al hierdie afgode tussen Hom en ons sou verwyder, wat sal ons oorhou?
Sou God alle items waaraan ons verbete vasklou en wat tussen Hom en ons staan verwyder, sou ons nog huise of motors hê? Sou ons nog televisies, skootrekenaars of selfone hê? Sal ons nog sportstadions, winkelsentrums of selfs kerke hê?
Sou God almal wie ons aanbid en wat tussen Hom en ons staan verwyder, sal ons nog vriende, gesinne, kinders, ouers of predikante hê?
Sou God alles wat tussen Hom en ons staan verwyder, waarmee sal ons oorbly? In Eksodus 34:14 lees ons: “Want jy mag geen ander god aanbid nie, want die Here wie se Naam Jaloers is, is ’n jaloerse God.”
Wanneer die Here, ons God, egter ons nommer Een is, die Een wie ons liefhet en aanbid, die Een wie ons met ons hele hart dien, sal ons nie net Hom hê nie, maar ons sal ook al daardie dinge hê wat ons vreugde verskaf.
Jesus het immers gesê: “Soek liewer die koninkryk van God; en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” (Lukas 12:31)