Padlangs Dagstukkie
Kom ons kyk na Simon Petrus. Hy is deur Jesus self geroep. Hy het ‘n verhouding met Jesus gehad. Hy het saam met Jesus geloop. Hy het die grootheid, die liefde en genade van God deur Jesus ervaar. En tog verraai hy vir Jesus, tog ontken hy dat hy Jesus ken.
Jesus kon in die hart van Petrus sien. Die Here het hom geken, daarom spreek Jesus hom aan in Lukas 22:32 met die woorde: “Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie; en as jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk.” (Afrikaan Ou Vertaling) Beteken dit dat Petrus heeltemal onbekeerd was? Waarskynlik nie, maar dit dui daarop dat selfs diegene naby aan God kan uitsak.
Daar is hoop. Jesus tree vir ons in en bid dat ons geloof behoue moet bly sodat ons terug kan draai na Hom. Kom ons kyk na Lukas 22:32 in die Nuwe Afrikaanse Vertaling: “Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.”
God se roepe vandag is dieselfde as in 2 Kronieke 7:14 “en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.”
God verlang dat ons terug moet keer. Dat ons, ons lewens dikwels in oênskou moet neem sodat ons vernuwe kan word. Kyk na 2 Korinthiers13:5 “Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef. Of is julle nie seker van julself dat Jesus Christus in julle is nie—as julle ten minste nie verwerplik is nie”! Lees dit sommer ook in die Boodskap vertaling: “Nou wil ek ernstig met julle praat: Gaan kyk ‘n slag deeglik na julle eie lewe. Glo julle nog?”
Kom ons kyk ook na Lukas 14:26 – 30 “As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees nie tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe. Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aan kom nie, kan nie my dissipel wees nie.”Wie van julle wat ‘n gebou wil oprig, gaan nie eers sit en die koste bereken, om te sien of hy genoeg geld het om die werk te voltooi nie? Anders, as hy die fondament gelê het en nie in staat is om die gebou te voltooi nie, sal almal wat dit sien, met hom die spot begin dryf. Hulle sal sê: ‘Hier is ‘n man wat begin bou het maar nie kon klaar maak nie.’
Die tyd het gekom, die tyd is ryp en die tyd is nou om te besluit. Dis alles of niks. Bereken die koste. Draai opnuut na God en keer terug. En dan sal Jesus ook sê: “As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.”
Sou jy vandag besluit om Jesus weer eerste te stel, jou sonde bely en Hom as saligmaker aan te neem en jy benodig leiding, skryf vir ons en ons help jou graag.