Padlangs Dagstukkie

Terwyl ek deur die Evangelies blaai sien ek hoe Jesus Homself op bonatuurlike maniere aan ons openbaar. Ek sien dat Jesus dooies opwek. (Lukas 7: 11-17, Johannes 11: 1-44) Ek sien dat Hy siekes genees. (Lukas 5: 12-14, Mattheus 9: 27-31) Ek sien hoe hy besetenes bevry. (Markus 5: 1-15, Mattheus 9: 32-33) En ek sien hoe Hy duisende voed met slegs ‘n paar brode en visse. (Johannes 6: 1-14)

In ons eie lewens het ek al wonderwerke gesien. Ons (ek moet sê my) redding is ‘n wonderwerk. Ek en my gesin kan getuig van God se genesende krag. Hy het my, my vrou en my dogters genees. Ons kan ook vertel van God se voorsiening en beskerming.

Tog is daar diegene wat nie glo nie. Daar is diegene wat sê dat wonderwerke tyd-spesifiek was en net in Bybelse tye plaasgevind het. Dan is daar predikante wat op podiums verkondig dat God die mens wysheid gegee het sodat die mens self genesing kan meebring (medisyne) of bevryding kan bewerkstellig (sielkunde). Maar, daar is ook ‘n aantal gelowiges wat glo dat hulle nie goed genoeg is nie, of dat hulle nog sondig of dat God kwaad is vir hulle, daarom verdien hulle nie ‘n wonderwerk nie.

Vandag wil ek omonwonde verklaar dat ek in ‘n God glo wat wonderwerke gedoen het en nog steeds kan doen. Ek glo in Jesus Christus wat gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde is. (Hebreërs 13: 😎 En as gevolg van hierdie onweerlegbare waarheid glo ek dat Jesus wat wonderwerke in die verlede gedoen het dit steeds kan doen. Hy, wat liefgehad het, het steeds lief. Hy, wat omgee, gee steeds om. Hy, wat lewens gered het, red steeds lewens. Hy, wat genees het , genees steeds. Hy, wat lewe gegee het, gee steeds lewe. Hy, wat voorsien het, voorsien steeds.

Laat ons nie durf (waag) om te sê dat God nie meer wonderwerke doen nie! Laat ons nie God se vermoë om wonderwerke te doen bevraagteken nie. Laat ons eerder ondersoek instel na ons vermoë om te glo, of om op God te vertrou. Dit is nie God wat swak geword het of nie in staat is wonderwerke te doen nie maar eerder ons geloof wat swak geword het en God beperk.

Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry. (Markus 11:24)

Maar ek wil ook maan: As ons hoofdoel, oogmerk of rede waarom ons die Here dien is om ‘n wonderwerk te ontvang, moet ons, ons motiewe toets en ons harte deursoek. Dikwels word diegene wat wonderwerke najaag teleurgestel en val dan terug. Ons liefde vir God moet swaarder weeg as ons begeertes. Ons moet eerder soek na die hart van God as na sy hand.

Here, vandag bid ek. Trek ons nader aan U. Bring ons in U teenwoordigheid, sodat ons ook ‘n openbaring van U liefde in ons lewens kan ervaar. Ek bid dit in die naam van Jesus – Amen.

Social Share Buttons
Previous post Christus gee krag
Next post Sou jy vandag besluit om Jesus weer eerste te stel

Goto Top