Padlangs Dagstukkie
Die kruis spreek van God se nimmereindige liefde en onbeperkte genade. Maar, dit spreek ook van vergifnis. Dit laat ons opnuut die belangrikheid van vergifnis teenoor mekaar besef. Ons leer dit juis uit die boodskap wat Jesus Christus aan die kruis vir ons gelaat het. Terwyl die soldate Hom gekruisig het, het Jesus die volgende woorde gespreek: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” (Lukas 23:34) Hy wat Sy dissipels geleer het om ander te vergewe soos gesien in Mattheus 6:12-15 bid nou tot God vir die vergifnis van hulle wat Hom so onregverdiglik laat ly. Instede daarvan om hulle te vloek en sleg te sê, openbaar Hy Sy hart van liefde en vergifnis vir hulle: Hy vergewe hulle en bid vir hulle. Jesus Christus het dus vir ons die voorbeeld gestel van hoe ons moet optree teenoor hulle wat ons te na kom; Vergewe hulle en bid v i r hulle.
Van wie het Hy gesê? “Hulle weet nie wat hulle doen nie”. Pilatus wat geweet het dat Hy onskuldig is, die mense wat gesien het watter wonderwerke Hy doen, die Priesters en die Skrifgeleerdes wat die Woord geken het en tog het hulle Hom nie herken nie. Het hulle werklik nie geweet wat hulle doen nie? Dit laat ‘n mens wonder. Tog maak Hy verskoning by Sy Vader vir hulle deur te sê: “Hulle weet nie wat hulle doen nie”. Sou die wêreld nie ‘n beter plek gewees het as ons as mens tog maar wanneer ander ons te na kom en die kruis wat ons moet dra, wat veel minder is as dit wat Hy moes dra, ruimte laat vir ander nie. Kan ons nie ook maar soos Jesus Christus vergewe en met opregtheid sê: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie”
Terwyl Jesus Christus aan die kruis gehang het, het Hy hulle wat Hom gekruisig het, en ons vir wie Hy gekruisig is, gedien. Die sonde en verkeerd van alle vlees kon nie Sy liefde vir die mensdom uitdoof nie, maar deur hierdie verlossingsdaad van liefde stel Hy die voorbeeld vir ons om mekaar te dien ondanks ander se onregverdigheid teenoor ons. Vergifnis beteken dus ook om hulle te dien deur wie ons seergemaak word. Om goed te doen aan hulle wat ons te na kom, hulle wat dit moeilik maak vir ons om hulle lief te hê, hulle wat vir ons pyn en ellende verantwoordelik is, maak dus deel uit van vergifnis.
Jesus Christus het ons so lief dat Hy bereid was om te vergewe, vir ons in te tree by die Vader, verskoning te maak vir ons by God, ons te dien, maar bowenal dit wat Hy Sy dissipels geleer het deur vir hulle te sê: “Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg” Jesus het Mattheus 5:44 aan die kruis uitgeleef.
Klink dit onmoontlik? As Jesus Christus in ons woon en ons Hom toelaat sal Hy deur ons werk om ander so lief te hê, so te vergewe, te dien, vir hulle te bid, verskoning te vind vir hulle verkeerd en hulle te seen. Laat dus toe dat Hy jou denke vernuwe sodat jy soos Jesus Christus kan vergewe, want anders loop ons die gevaar om nie deur God vergewe te word nie soos Mat 6:12-15 dit duidelik stel: “vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen. Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.”
Vader, gee ons asseblief die hart van Jesus Christus en leer ons om soos Hy te vergewe. Amen!