Donderdag Padlangs Huistoe Boodskap
Vanoggend, terwyl ek dink aan hoe die jaar verby gesnel het, herrinner die Gees my aan God se liefde en genade. En ek word oorweldig met die volgende gedagtes: “Tot hiertoe het die Here ons gebring. Ek weet nie wat ek sou doen as die Here nie met my was nie” en “Sonder Hom sou ek niks kon doen.”
Dan, met groot dankbaarheid, kan ek nie anders as om God te loof.
Heilig, heilig, heilig is die HERE van die leërskare. Die hele aarde is vol van Sy heerlikheid! (Jesaja 6:3) Ek dank ons Skepper God, wat ons tot stand gebring het, wat met ons was van geboorte en met ons sal wees tot ons oud en grys sal wees. (Jesaja 46:3-4)
Dit is goed om die HERE te loof en tot eer van u Naam te psalmsing, o Allerhoogste, om in die môre u goedertierenheid te verkondig en u getrouheid in die nagte. (Psalm 92:1-2)
Soos Samuel kan ek uitroep: “Tot hiertoe het die HERE ons gehelp.” Saam met die Psalm skrywer kan ek sê: “Die HERE het groot dinge aan ons gedoen: ons was bly!” As ek terug kyk oor die jaar, na tye waar ek myself in ‘n eensame woestynagtige plek bevind het, kan ek sê: “Hy het vir my gestry. Hy het my opgetel en gedra soos ‘n man sy seun dra.” (Sien Deuteronomium 1:30-31) Die Here het my skuilplek gebied, my beskerm en my bewaar. (Psalm 18:2)
Omdat Jesus Christus dieselfde was, is en sal wees (Hebreërs 13:8) is ek opgewonde oor die toekoms. Ek loof die Here want niks is vir Hom onmoontlik. (Markus 10:27) Niks is te moeilik vir Hom. (Jeremia 32:17) Hy sal met ons wees. Hy sal ons nie begewe of verlaat nie. (Hebreërs 13:5) Hy sal ons optel, dra en red. (Jesaje 46:4)
Vandag loof ek die Here wat was, wat is en wat sal wees. Kom openbaar Uself in ons lewens vir solank as wat ons lof en eer aan U bring. Ek bid dit in Jesus Naam, Amen.