Wanneer het jy jou volle potensiaal bereik? Ongelukkig glo baie dat hulle hul volle potensiaal bereik het wanneer hul ‘n mate van sukses behaal het of wanneer hulle hul doelwitte bereik het. Dit is egter nie so nie. Ter illustrasie; ‘n groep rowers kan ‘n bank suksesvol beroof . Net so kan ‘n kaper as suksesvol beskou word as hy jou motor gekaap het. Sou jy sê dat hulle hul volle potensiaal bereik het? Dink hieroor: ‘n Persoon begin as ‘n arbeider by ‘n maatskappy werk en werk sy pad oop totdat hy ‘n aandeelhouer of bestuurder is. Beteken dit dat hy sy volle potensiaal bereik het? Dikwels bereik mense die bopunt van die leer, net om te vind dat die leer teen die verkeerde muur geplaas was. So, hoe bereik ons volle potensiaal?
Volle potensiaal word slegs bereik wanneer die volheid van God in elke area van jou lewe geopenbaar word, wanneer die volheid van Christus en veral Sy offer aan die kruis sigbaar is in alles wat jy doen en wanneer elke aksie en elke stap wat jy neem, deur die Heilige Gees in jou geïnspireer is. Met ander woorde; Volle potensiaal word eers bereik wanneer God in ons verheerlik word.
So hoe bereik ons ons volle potensiaal? In kort: Wanneer ons sterf word ons in staat gestel om ons volle potensiaal te bereik . Ons moet die ou , vleeslike en wêreldse natuur afsterf of neerlê. Dit word gedoen wanneer ons Jesus Christus aanneem en Sy voltooide werk aan die kruis aanvaar. Ons moet ook in staat wees om te sê: ” Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my l i efgehad het en Homself vir my oorgegee het.” (Galasiërs 2:20)
Dan, na bekering en wedergeboorte moet ons Paulus se raad opneem soos opgeteken in Romeine 12:1-2 wat lui: “Ek wil nou ‘n baie ernstige beroep tot julle rig. Ek doen dit omdat julle begryp hoe baie God vir julle omgee. Gee julle hele lewe aan Hom. Julle moet lewende offers in God se hand wees. ‘n Lewe wat voltyds afgesonder is vir Hom is presies waaroor godsdiens gaan. Moenie tuis raak in hierdie wêreld met al sy boosheid nie. Nee, laat God julle van binne af nuut maak. Laat Hy julle manier van dink verander sodat julle kan wee twat Hy van julle verwag. Dan sal julle ook weet wat Sy wil is en hoe julle julle hele lewe elke dag aan Hom moet oorgee.” (geneem uit die Boodskap vertaling)
Volle potensiaal word bereik wanneer ons na die Heilige Gees luister wat die Woord van God in ons bevestig ,wanneer ons Sy stem hoor, doen wat Hy sê, gaan waar Hy ons beveel en die Woord van God gehoorsaam. Terloops, ek glo dat die Gees van God sê dat ons nooit volle potensiaal sal bereik as ons voortgaan om in sonde te leef nie. Ten spyte daarvan dat ons die waarheid ken soos geopenbaar in die Skrif sal talle nie volle potensiaal bereik as hul nie wegdraai van die sonde nie. As voorbeeld: ‘n Egbreker sal nooit volle potensiaal nie . ‘n Persoon wat in seksuele onsedelikheid leef sal nie sy volle potensiaal bereik nie. ‘n Ongehoorsame of onbeheerbare kind sal nie volle potensiaal bereik nie. Hoekom is dit so? Want God word nie deur sonde verheerlik nie.
Om volle potensiaal te bereik moet ons ook God se Woord in ons lewe bely en verklaar. Hier is ‘n paar voorbeelde van geloofsverklarings:
“Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.” ( Filippense 4:13 )
“In al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur die een wat ons liefgehad het.” (Romeine 8:37 )
“Wanneer ek swak is, dan is ek sterk . ” ( 2 Korinthiërs 12:10 )
“Sonder Jesus kan ek niks doen nie. ” (Johannes 15: 5 )
Om volle potensiaal in Christus te bereik moet ons uitreik na ander, na hulle wat honger en dors is, na hulle wat smag na die Brood of Water van die lewe. Jesus het immers gesê: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.” (Markus 16:15)
Ten slotte, laat my toe om ‘n teks uit die boodskap vertaling met jou te deel: “Toe ek by julle was het julle altyd gedoen wat ek gevra het. Hoeveel te meer moet julle dit doen nou dat ek nie meer daar by julle is nie. Onthou, God hou julle dop. Doen daarom alles wat julle kan om te lewe soos mense wat aan God behoort. God self is by julle lewe betrokke. Hy is met julle besig as julle nie voel julle wil iets doen wat Hom gelukkig sal maak, en as julle dit uiteindelik doen. Is Hy steeds by julle. Ja, dit is Hy wat so in julle werk. Doen alles sonder om te kla of te stry. Dan sal niemand julle kan beskuldig van agterbaksheid of verkeerde motiewe nie. Niemand sal oor julle as kinders van God kan kla nie – selfs al bly julle tussen mense wat korrup en sonder gewete is” (Filippense 2: 12b-15 )