Vanoggend se Padlangs Huistoe XM Boodskap ::::: Wanneer ons God liefhet, sal ons sy gebooie nakom (1 Johannes 5: 3). God se drievoudige gebod is deur Jesus aan ons gegee. In Matteus 22:37 sien ons Jesus sê dat ons die Here ons God moet liefhê met ons hele hart, hele siel en hele verstand, ons naaste moet liefhê en onsself moet liefhê. Wat beteken dit om jouself lief te hê? Dit beteken dat ons onsself genoeg liefhet om bereid te wees om onsself aan die Here oor te gee, om God eerste te plaas en om God se perfekte wil in ons lewens te soek. Dit impliseer dat ons onsself so liefhet dat ons nie bereid sal wees om nog een tree te gee sonder die Here aan ons sy nie.
Om God lief te hê, beteken ook om mekaar lief te hê. In Johannes 13: 34-35 sê Jesus: “‘n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.” Om mekaar lief te hê, beteken dat ons sal gee en vergewe. En as dit kom by die gee, gee ons van onsself, ons tyd en ons hulpbronne – nie om gesien te word nie, maar dat God gesien kan word (dat God geopenbaar en verheerlik sal word.)
Om God lief te hê, beteken om God eerste in ons lewens te plaas. Verse wat by my opkom, is Matteus 6:33 en Lukas 12:31 wat sê dat ons God eers moet soek. Om God lief te hê, beteken om heeltemal aan Hom oor te gee, om totaal en al aan Hom oor te gee, Hom te eer en bereid te wees om te gaan waar Hy ook al gaan en te volg waarheen Hy ookal lei. Dit beteken ook dat ons eerder na God se hart as Sy hand moet soek, eerder ‘n verhouding met Hom moet soek as Sy voorsiening. Om God lief te hê, kan vergelyk word met ‘n bruid wat haarself gee of oorgee om een met haar man te word.
Inderdaad, alles sal ten goede meewerk, mits ons liefhet soos Jesus liefgehad het. En ons moenie vergeet dat Jesus God so liefgehad het dat Hy Homself, selfs tot die dood, aan God oorgegee het nie.