Rom 12:9 Laat die liefde ongeveins wees; verafsku wat sleg is; hang die goeie aan;
Rom 12:10 wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; die een moet die ander voorgaan in eerbetoning;
Rom 12:11 wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here;
Rom 12:12 verbly julle in die hoop; wees geduldig in die verdrukking; volhard in die gebed.
Rom 12:13 Maak voorsiening in die behoeftes van die heiliges; streef na gasvryheid;
Rom 12:14 seën die wat julle vervolg, seën en moenie vervloek nie;
Rom 12:15 wees bly met die wat bly is, en ween met die wat ween;
Rom 12:16 wees eensgesind onder mekaar; moenie na hoë dinge streef nie, maar voeg julle by die nederige; moenie eiewys wees nie;
Rom 12:17 vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; bedink wat goed is voor alle mense;
Rom 12:18 as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.
Rom 12:19 Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here.
Rom 12:20 As jou vyand dan honger het, gee hom iets om te eet; as hy dors het, gee hom iets om te drink, want sodoende sal jy op sy hoof vurige kole ophoop.
Rom 12:21 Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.


Social Share Buttons

Goto Top