Eze 37:1 Die hand van die HERE was op my, en Hy het my uitgebring deur die Gees van die HERE en my neergesit in die laagte; en dit was vol bene.

Eze 37:2 En Hy het my by hulle laat verbygaan na alle kante toe; en kyk, daar het ‘n groot menigte oor die laagte gelê, en kyk, hulle was baie dor.

Eze 37:3 Toe sê Hy vir my: Mensekind, kan hierdie bene lewendig word? En ek antwoord: Here HERE, U weet dit.

Eze 37:4 Daarop sê Hy vir my: Profeteer oor hierdie bene en sê vir hulle: Dor bene, hoor die woord van die HERE!

Eze 37:5 So spreek die Here HERE tot hierdie bene: Kyk, Ek bring gees in julle in, sodat julle lewendig kan word.

Eze 37:6 En Ek sal senings op julle lê en vlees oor julle laat opkom en ‘n vel oor julle trek en gees in julle gee, sodat julle lewendig kan word; en julle sal weet dat Ek die HERE is.

Eze 37:7 Toe het ek geprofeteer soos my beveel was. En sodra ek geprofeteer het, was daar ‘n geruis, en kyk—’n beroering! En die bene het nader gekom, elke been na sy been.

Eze 37:8 Toe kyk ek en—daar was senings op hulle, en daar het vlees op gekom, en ‘n vel is bo-oor hulle getrek, maar daar was geen gees in hulle nie.

Eze 37:9 Daarop sê Hy vir my: Profeteer tot die gees, profeteer, mensekind, en sê aan die gees: So spreek die Here HERE: Kom aan uit die vier windstreke, o gees, en blaas in hierdie dooies, dat hulle lewendig kan word.


Social Share Buttons

Goto Top