Die 10 Maagde

Mat 25:1 Dan sal die koninkryk van die hemele wees soos tien maagde wat hulle lampe geneem en uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet.
Mat 25:2 En vyf van hulle was verstandig en vyf dwaas.
Mat 25:3 En toe die wat dwaas was, hul lampe neem, het hulle geen olie met hulle saamgeneem nie.
Mat 25:4 Maar die verstandiges het olie in hulle kanne saam met hul lampe geneem.
Mat 25:5 En terwyl die bruidegom talm om te kom, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak.
Mat 25:6 En middernag was daar ‘n geroep: Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet!
Mat 25:7 Toe staan al daardie maagde op en maak hulle lampe gereed.
Mat 25:8 En die wat dwaas was, sê aan die verstandiges: Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan uit.
Mat 25:9 Maar die verstandiges antwoord en sê: Miskien sal daar nie genoeg wees vir ons en vir julle nie. Maar gaan liewer na die verkopers en koop vir julleself.
Mat 25:10 En onderwyl hulle gaan om te koop, het die bruidegom gekom. En die wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof, en die deur is gesluit.
Mat 25:11 Later kom toe die ander maagde ook en sê: Meneer, meneer, maak vir ons oop!
Mat 25:12 Maar hy antwoord en sê: Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie.
Mat 25:13 Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie.


Social Share Buttons

Goto Top